Koekstruif met Sjokoladevla

1 sjokolade rolkoek
1 liter Sjokoladevla (gekoop of self gemaak)
2 blikke ontpitte swart kersies, gedreineer
Garnering: gerasperde sjokolade, geklopte room en glanskersies
Opsioneel: kersielikeur of sjerrie

Metode
Sny die rolkoek op in dun skyfies.
2Gebruik ‘n mooi glasbak sonder patrone en plaas ‘n dun laag van die koek onderin in die bak.
Indien u likeur/sjerrie gaan gebruik, kan u die eerste lagie koek daarmee bedruip.
Plaas ‘n paar van die gedreineerde kersies bo-op die koek en rond dit af met ‘n gedeelte van die sjokoladesous
Herhaal die lae en eindig met sjokoladevla. Die koekskywe word elke keer liggies bedruip met die sjerrie/kersielikeur.
** Indien u nie kersielikeur of sjerrie wil gebruik nie, kan u van die kersiesous gebruik om die koekskywe mee te bedruip….. nie te veel nie.
Die laaste laag sjokoladevla, kan nou verder afgerond word met sjokoladekrulle of grof gerasperde sjokolade asook roomrosies en ‘n glanskersie bo-op vir die letterlike kersie op die koek!
U kan selfs wit, donker en bruin sjokolade krulle afwissel om die bolaag mee te versier.
Verkoel die nagereg en haal ‘n uur voor bediening uit.
Indien u nie gekoopte sjokoladevla gaan gebruik nie, kan u dit self maak deur die volgende maklike resep te volg wat verskyn in Bron: Kortpadkos

Sjokoladevla (kortpadkos)
1 liter volroom melk
15 ml botter
5 ml fyn kitskoffiepoeier
¾ kop (150g) wit suiker
75 ml vlapoeier
60 ml kakao
Knippie sout

Metode
Meng suker, vlapoeier, kakao en knippie sout met 125 ml van die melk.
Verhit die res van die melk (875 ml) tot kookpunt en voeg die botter en koffiepoeier daarby.
Voeg die suiker, vlapoeier en kakao mengsel by die warm melk terwyl u dit roer oor matige hitte en kook tot dik en gaar.
Vir ‘n bietjie ekstra geur, kan 1 t vanieljegeursel ingeroer word.
Hierdie sous is natuurlik ook heerlik om voor te sit saam met roomys!