Kondensmelk Melktert

Kondensmelk Melktert

Kors

  • 800 g (2 x 400 g-rolle) gekoopte skilferkorsdeeg
  • bietjie melk

Melktertvulsel

  • 1 ℓ (4 k) volroommelk
  • 397 g (1 blik) kondensmelk
  • 2 stukke pypkaneel
  • 8 ekstragroot eiers, geskei
  • 125 ml (½ k) water
  • 187 ml (¾ k) bruismeel
  • 60 ml (4 e) mielieblom
  • 125 ml (½ k) suiker
  • 2,5 ml (½ t) sout
  • 5 ml (1 t) vanieljegeursel

Bolaag

  • 15 ml (1 e) fyn kaneel

Metode

  1. Stel oond op 250 °C.
  2. Kors Smeer twee groot blikborde met botter en voer dit met skilferkorsdeeg uit.
  3. Prik bodem van deeg met vurk.
  4. Gebruik orige skilferkorsdeeg om rand (ongeveer 2 cm breed) op rand van blikbord te vorm.
  5. Verf rand van blikbord met water en plaas strook skilferkorsdeeg op rand.
  6. Verf net randgedeelte met bietjie melk.
  7. Plaas voorbereide blikborde in yskas terwyl vulsel voorberei word.
  8. Melktertvulsel Verhit melk, kondensmelk en pypkaneel saam in kastrol tot warm.
  9. Klits eiergele en water met vurk.
  10. Meng bruismeel, mielieblom, suiker en sout in mengbak.
  11. Voeg eier-en-water-mengsel by meelmengsel en roer totdat slap deeg vorm.
  12. Wanneer melkmengsel kookpunt bereik, roer meelmengsel by en roer aanhoudend totdat melktertpap begin verdik.
  13. Verwyder van hitte en roer vanieljegeursel by.
  14. Haal kaneelstokkies uit.
  15. Klits eierwitte met elektriese klitser tot stywepuntstadium.
  16. Vou eierwitte by melktertpap in en meng goed.
  17. Skep melktertpap in koue korse en bak vir 12 minute by 250 °C.
  18. Draai stoof se hitte laer na 170 °C en bak vir nog 20 minute of tot goudbruin bo-op.
  19. Bolaag Laat melkterte afkoel en sprinkel kaneel bo-oor.
  20. Sit in skywe voor.